Soos ons gewoond is, stel ’n nuwe boek van Fanie Viljoen nie teleur nie. Springboekie is ’n eg Suid-Afrikaanse verhaal, kompleet met ’n tradisionele lied en diere waarmee kinders lekker kan identifiseer.
Springboekie is nie sommer enige springbok nie. Hy speel nie rugby nie en hy hou van lees, ’n regte ambassadeur vir die boekebedryf. Hy probeer sy bes om sy vriende, Oliefie, ’n klein olifantjie, Koolie die klein kameelperd en Zula, die verstrooide zebra, aan die lees te kry. Dan is daar natuurlik die gevaarlike leeu, Lemmer, wat geen respek het vir Springboekie se boekeversameling nie en ’n les geleer moet word.
Die skitterende illustrasies van Elsabé Ebersohn verdien spesiale vermelding. Dit, tesame met die kreatiewe gebruik van kleur en lettertipes, maak van Springboekie ’n absolute plesier om te lees. Dit sal beslis byval vind vir voorlees, want daar is ook volop klanke wat ’n kreatiewe voorleser lekker kan inspan om kleiner kinders te vermaak. Ouer kinders wat al selfstandig lees kan die voorleeswerk oorneem, of sommer net self geniet.