Die Fluisteraar is ’n baie interessante aanbieding in die toekomsfiksiegenre. Die jaar is 2075. Die wêreld se natuurlike hulpbronne is uitgeput. Natuurrampe, oorloë, plae en voedseltekorte het miljoene uitgewis, lees ons in die Proloog. Kato, ’n intelligente sewentienjarige, leerling by Solaris Internationaal deel nie sy onderwyser, meneer Flink, se geloof dat die klimaatbalans kan herstel nie. “Die harde feit is dat niks lewe nie en niks meer gáán lewe nie.” (p.21 e-boek)
Dit blyk dat Kato oor ’n spesiale vermoë beskik wat plantegroei kan stimuleer en woude herstel. Daarvoor word hy gewerf deur die IPN, Die Instituut vir Planetêre Navigasie, om te gaan “werk” in Uganda. Hy voel dat sy ouers hom opoffer ter wille van die planeet. (p.119 e-boek). Sy opstand daarteen en sy heimwee na die see van die Kaapse kom, gee aanleiding tot ’n spannende verloop van omstandighede wat hom uiteindelik by ’n belangrike morele besluit uitbring.
Wat die verhaal vir my onderskei, is dat daar wel wetenskapfiksie elemente teenwoordig is, soos hommeltuie, oktokopters en uberbotte, maar dit bly in essensie ’n verhaal oor mense en nie robotte nie. Weliswaar mense met uitsonderlike vermoëns, maar dit is heel geloofwaardig. Daar is familiebande, vriende, selfs troeteldiere.
Skrywer, Jacolet van den Berg, het haarself deeglik bewys as ’n sukses in die liga van jeugboekskrywers. Die Fluisteraar is sopas aangewys as naaswenner in die Lapa Jeugverhaalkompetisie van 2025, ’n prestasie wat sy ook in die 2024 kompetisie behaal het.