Ek het nie vir Ludo Labuschagne “ontmoet” in boek een van hierdie reeks nie, eers in die derde boek, Blou moord (#3). Dit het gevolg op Die duiwel maak my hart so seer (#1) en Kry vir jou (#2). Hy is ’n knaap van vier en twintig, wat nog, in sy eie woorde, op sy ma se nek lê. Sy pa en ma is vervreemd maar nie amptelik geskei nie. Daar is ’n oom Dippie in die prentjie, maar hy en Ludo het nie erg aan mekaar nie.
Die unieke resep van die reeks is dat dit geplaas word in 1981, met grepe uit die wêreldgeskiedenis en plaaslike gebeure van daardie era, kompleet met gewilde musiek, lirieke waarvan telkens opduik. Ludo beplan om as lekespeurder, elke maand ’n saak op te los, sake wat by hom kom aanmeld. Die skrywer se inleidende hoofstuk maak reeds vir interessante leesstof oor hierdie, maar ook sy vorige reekse. ’n Verdere kenmerk van die Ludo-reeks is dat hy in die eerste persoon vertel, maar ander karakters ook kans kry om te fokaliseer. Dit gee uiteraard ’n wyer perspektief en skep spanning.
Ludo loop ontvoerings, pornografie, afpersing en moord, selfs aanranding en noue ontkomings op die lyf wanneer hy in April op Bredasdorp sy vierde #wiedoenit begin ondersoek. Ek het gevoel die aanloop was effens lank, met sy pogings om sy pa en ma weer aan’t gesels te kry, maar daarna neem die storie ’n gemaklike pas aan.
Persoonlik het ek die verteltrant geniet, deurspek met fyn humor. Ek kon ook goed identifiseer met die tagtigs, waar ons self jonggetroudes was, met basaartafels, telefoonhokkies en kassette. ’n Speurverhaal met ’n (baie duidelike) verskil wat ek kan aanbeveel as jy nie noodwendig ’n moderne aanslag verwag in jou leesstof nie. En ook nie ’n held wat alles onder beheer het nie, want daarvoor loop daar heeltemal te veel dinge skeef.