“Enigeen kan ’n moordenaar wees. Al wat dit vat, is ’n goeie rede, en ’n slegte dag.” (p. 25) Sommer vroeg-vroeg moes ek heelhartig saamstem met hierdie sentiment van adjudant-offisier Lisamore Talakase. Ek het om die beurt ’n hele paar van die uitgebreide aanbieding van karakters oorweeg as die moordenaar, selfs die moontlikheid ondersteun dat daar inderdaad meer as een moordadige sluiper los is in Hermanus. Die tienermoorde en die ander moorde hou duidelik nie verband nie.
Koloner Bekeer se taakspan, bestaande uit Talakase, Werner de Wege en die vermaaklike Johnny Delport, maak nie hond haaraf van die twee reekse moorde nie. Die hulp van kaptein Stephan Schutte word ook ingeroep. Laasgenoemde se IT-vernuf sorg weliswaar vir ’n paar deurbrake. Die tienermoordenaar word redelik vroeg ontmasker, maar die storielyn verloor nie momentum nie. Die ander moorde sorg dat die spanningslyn geensins verslap nie.
Wegkruiper is die tipiese boek wat mens heeltemal te vinnig lees omdat jy agter die kap van die byl wil kom. Die skrywer het geduldig omgegaan met die detail van destydse gebeure wat die karakters verbind asook met die moordenaar se makabere motivering is die wreedaardige slagtings.
Christelle Wessels se vorige boeke, Adder en Brandmerk, het ek nie gelees nie, maar ek is seker dat Wegkruiper ’n stewige posisie gaan inneem onder spanningsromans. Dit is net-net aanvaarbaar vir hierdie ietwat sensitiewe leser!
Wegkruiper is uitgegee deur Penguinbooks SA