In Outopsie kelder dokter en forensiese patoloog, Hestelle van Staden, ’n hele paar wanindrukke wat by mense bestaan oor die werk, die werksplek en die werkwyse in die veld van die forensiese patologie. Daar is niks glansryk daaraan soos rolprente dikwels wil weergee nie. ’n Groot frustrasie vir forensiese patoloë in Suid-Afrika, is dat hulle, anders as in gewilde misdaadreekse, deesdae selde na misdaad- of ongelukstonele ontbied word.
Dit is inderwaarheid ’n redelik ontnugterende boek om te lees. Dit dek ’n wye verskeidenheid van gevalle wat al op haar ondersoektafel beland het. Sonder om sentimenteel te wees of die verskrikking van onnatuurlike dood af te maak, kyk die leser as’t ware deur die bril van die forensiese patoloog na getuienis wat die oorsaak van sterftes blootlê.
Die skrywer onderskryf die woorde van Lois McMaster Bujold: ‘The dead cannot cry out for justice. It is the duty of the living to do so for them.’ In die outobiografiese eerste hoofstuk, erken die skrywer dat sy reeds op baie jong ouderdom verklaar het dat sy ’n dokter wil word en ’n boek wil skryf. Hierdie jong drome het inderwaarheid vir haar ’n werklikheid geword toe sy Outopsie geskryf het, eers in Engels, en toe in Afrikaans vertaal deur Linde Dietrich. Lesers mag ook bekend wees met die televisiereeks, Outopsie, hoewel ek dit nie gesien het nie.
Outopsie is in 2023 uitgegee deur Tafelberg, ’n druknaam van NB Uitgewers