Die hoofkarakter, Karo, gaan met groot verwagting aan boord van ’n luukse passasierskip vir ’n weeklange vaart tussen Port Elizabeth en Bazaruto. Dit was veronderstel om ’n groep van vier pare te wees, vriende van Karo se geliefde, Kabous. In effek bevind Karo en Adam hulself egter as los lote, terwyl sy vriendin en ook Kabous, afwesig is. Uiteraard skep dit ’n platvorm vir interessante verwikkelinge.
Daar is ’n dus ’n aansienlike klomp randkarakters, wat in-diepte ontwikkeling van die karakters uitdaag. Die leser kry wel ’n goeie lopie saam met Karo, van ’n suksesvolle model wat haar eie belangstellings tersyde stel om by Kabous in te val, tot ’n meer dinamiese persoon in eie reg.
Oulike alliterende titel, wat herinner aan Louise van der Merwe se reeks wat begin het met Kiekies en Koffie, skep ’n duidelike verwagting van romanse. Die boek is uitgegee onder die sub-genre, Reis, deur Romanza, die gewilde druknaam van Lapa Uitgewers.