Skrywer, Rina Cilliers, het my al telkemaal beïndruk met oorspronklike titels vir die rits Romanzas wat sy al gelewer het, titels wat dikwels die beduidenis het van ’n reeks, terwyl die verband hoofsaaklik lê in die titel self. Dink byvoorbeeld aan die “… vir die liefde” stories, Opaal, ’n Broodjie, en Pienk tonic.
Tussen klank en kleur hou weereens nie verband met die alpaccaboer en die loodglaskunstenaar van Tussen glas en vag nie. Nou ontmoet ons wel weereens ’n kunstenaar in die persoon van Marieka Marais. Haar onderwerp is die Kaapse fynbos en die opdrag is ’n reeks sketse van die blomme om saam met haar koffietafelboek te verskyn, vandaar die “kleur”. Haar versoek vir onbetaalde verlof lei haar na ’n familieplaas naby Swellendam en ’n aantreklike man op die aangrensende erf, een met wie sy dadelik in ’n interessante konflik verval. “Dis meeste van die tyd asof hulle soos twee swaardvegters voetwerk teen mekaar moet doen; heeltyd besig om te skerm.” (p.73)
Dit was vir my duidelik dat die “klank” aspek moes kom vanaf “befoerterdeTimo-man”, ’n argitek wat vanaf sy huis werk aan ’n groot ontwikkeling, in plaas van sy kantore by ’n vooraanstaande firma in Hermanus. Die skrywer verklap die oorsprong van die “klank” eers heelwat later in ’n pragtige toneel wat weer uitloop op ’n ligte besering en ’n skeut humor: “Marieke hoor dat haar stem na haar ouma se mak kapokhaantjie se poging tot kraai klink.” (p.83)
Daar is ’n stewige aanbod van antagoniste in die vorm van die ongebalanseerde Eric en die venynige Irene, terwyl Charl ook nog ’n bydrae lewer om dinge te kompliseer. As jy dus hou van ’n romanse met heelwat om die lyf, kan jy gerus belê in hierdie Romanza.