Madelie Human is nie sonder rede hoog aangeskrewe by vele romanselesers nie. Maak ’n boek van haar oop en spoedig is jy so betrokke by die wel en weë, en veral die harte van die karakters, dat hoor en sien kan vergaan totdat die knoop deurgehaak is.
Hoewel Liefde kan roes die derde aflewering is oor die hartsake van Wickus, Marli en hulle saamgestelde familie, slaag die skrywer daarin om haar lesers genoegsaam te herinner aan die voorafgaande gebeure sodat dit heel gemaklik selfstandig gelees kan word. Ons weet reeds, en word herinner daaraan, dat Karien as tiener haar hart verloor het op haar oudste stiefbroer, Schalk. Ook dat daardie verliefdheid eintlik diepgaande liefde is wat gebly het, selfs nadat Schalk oorsee is, verloof geraak het, en teleurgesteld teruggekeer het huis toe.
Die sukses van die storielyn lê nie bloot in die ontwikkeling van die sensitiewe verhouding tussen Karien en Schalk nie, maar ook in die wisselwerking met die ander familielede. Ook die fyn humor en slim woordkeuses, soos: “Et tu, Brute?” sê Schalk verontwaardig-beskuldigend. “Ek dog dan dis nie jou apies of jou sirkus nie.” (p. 70). En: “In sy geestesoog sien hy sy laaste varkie skreeuend met platgetrekte ore weghol.” (p. 94)
My ryke verbeelding noop my telkens om die afloop van ’n storielyn te probeer voorsien, kompleet met finale struikelblokke of sielewroegings wat mag opduik. Soms is ek in die kol, nie noodwendig altyd nie. Hier was die skrywer se idee beter as myne!
Indien jy wel nuuskierig genoeg is oor die voorgeskiedenis, kan jy gerus ook ’n Bruid voor Kersfees, en Die dokter langsaan aanskaf.