Die enigste gemene deler tussen Ontvoer en Die geheim van Mussolini se kaart was die naam van die skrywer, Constant van der Merwe. Of só was dit op die oog af. Toe ek egter my leserindruk oor laasgenoemde spanningsverhaal, uitgegee in 2022, naslaan, was ek verbaas om vir George en Elena daar raak te lees as hoofkarakters.
Ek wil die stelling maak dat, buiten om jou nuuskierig te maak om oor hulle eerste naelbyt avontuur te lees, hierdie twee verhale onafhanklik gelees kan word. Die feitestel van Ontvoer haak nie aan die eerste storielyn nie, slegs die twee hoofkarakters spoel oor na hierdie tweede boek in die reeks. Die leser vind nou vir George steeds in sy private forensiese ondersoekpraktyk, Elena op die plaas in Graaff-Reinet. Die langafstandverhouding tussen hulle lol en hierdie betrokke naweek moet dinge aangespreek word op neutrale grond.
Ek besef dat mens moeilik oor hierdie spannende verhaal kan skryf sonder om dit vir lesers te bederf met té veel inligting. Ek gaan dus baie kortliks noem dat George in Albertinia ’n oënskynlike ontvoering van ’n jong meisie sien wat ’n kettingreaksie van gebeure ontlok waarby nie alleen Elena nie, maar ook die sprankelende Carla, betrek word en wat hulle almal in lewensgevaar stel.
Die Dionusos-kultus het ’n nes gevestig in hierdie rustige plattelandse dorpie. Hulle leierskap wat oorsee gesetel is, beheer die dorp in effek deur omkopery, afdreiging en perverse seksuele rituele en dwels, met minderjarige dogters as die slagoffers. Omdat George se karakter en sy vorige ervaring in die polisie verhoed dat hy sy rug draai, word hy ’n teiken wat gejag word. Gou was dit onmoontlik om die boek neer te sit, want die reddingspoging wat George en die liewe oom Doepie aandurf, het nie haalbaar gelyk nie. Maar genoeg gesê, lees gerus self as jy hou van ’n spanningsverhaal wat vinnig beweeg, met ’n gemaklike skryfstyl, sonder té veel bloed en derms, maar wel met ontstellende elemente wat te wagte is van ’n kultus soos hier beskryf.
Ontvoer is uitgegee deur Queillerie, ’n druknaam van NB Uitgewers.