Die byderwetse avonture van die beste vriendinne, Nina en Jessie, het aan skrywer Elizbé van die Colff meerdere kinderboektoekennings besorg. Drie suksesvolle verhale is onlangs saamgebind in die Nina-omnibus: Die awesome speurklub. Die talent van Chris Venter dra ook by tot die sukses van hierdie geïllustreerde kinderboek.
’n Pet met spesiale kragte kan as die derde lid van die speurklub beskou word. Dit is juis hierdie besondere pet wat telkens vir die meisies op die spoor plaas van booswigte. In Nina en die wacky hare, tref ’n kopluisplaag Laerskool Tierkop. Die pet wys vir hulle waar die oorsprong daarvan is. Hulle span die entrepreneursdag in om die skool van skande te red en die skuldige aan die pen te laat ry.
Nina en die funky eksperiment skep bewustheid van die gevare van opkikkers in sport. Nina en die crazy klere is volop nuwe skeppings, soos klere wat die draer onsigbaar maak en ’n gedagteleser. Telkens is daar skelms wat deur die dapper meisies aan die kaak gestel word.
Buiten Nina en Jessie se geheime skrif wat uitgelê word en die resep vir hulle SupaDoepa-borrelkoeldrank, is daar ook handige feite oor brommels (vuurmaagpadda), behandeling vir kopluise en verkleurmannetjies.
Ek het hierdie drie stories regtig baie geniet, en ek dink dit sal groot byval vind by lesers van 9 jaar en ouer. Die bundel word uitgegee deur Tafelberg, ’n druknaam van NB Uitgewers