FREE delivery to all EXCLUSIVE BOOKS stores nationwide. FREE delivery to your door on all orders over R450. Excludes all international deliveries.
Andreas Meyer kom klop aan by Belladonna, ’n maatsoek-agentskap wat bedryf word deur Krista Joubert en haar twee susters. Hy is aantreklik, selfversekerd en desperaat om binne ses weke getroud te kom. Sy uitgesproke voorneme dat dit gaan oor ’n erfporsie, en nié om ’n vir-ewig maat te vind nie, veroorsaak dat Krista ernstige bedenkinge het. “Ek is nie so seker ons is die regte agentskap vir jou nie. Jy verwag ’n … e … tref-en-trap-situasie, terwyl ons meer op die lang termyn en volhoubaarheid konsentreer.” (p.8)
Hierdie feitestel mag dalk nie uniek wees nie, maar dit is die ontwikkeling van die held wat die verhaal uitsonderlik maak. Met vaardigheid skil die skrywer die lae van sy persoonlikheid af. “Sy sal nooit weer haar susters toelaat om te sê Andreas Meyer is so vlak soos ’n piering nie. Die man het verskuilde dimensies wat sy nie verwag het nie.”(p.104)
Die proses toets Krista se vaste oortuigings deurentyd. Sy glo aan ’n standvastige huwelik wat gaan hou, soos dié van haar ouers. Sy het ’n probleem daarmee om mense onder valse indrukke te bring en sy het empatie met ’n pa en seun-verhouding wat skade gekry het. ’n Sterk heldin wat haar man kan staan en ’n goeie man verdien.
Die skryfstyl van die ervare Dina Botha is ongeforseerd, soos ons van haar verwag. Sy skets situasies meesterlik: “Sy behoort nie eens agter te kom hoe ongelooflik lekker hy ruik nie. En dan sy tergende oë ... dit behoort haar glad nie so te affekteer nie.” (61)
Ná haar suksesvolle Laeveld-trilogie, laat skrywer, Elize Parker, vir eers die wêreld van die Komati, kremetartbome en renosterstropers agter. Sy neem haar lesers nou kus toe, na Albatroshoek, ’n dorp met ’n reputasie. “Die dorp word ’n hoek waarnatoe die lewe diegene met seer vee. Hier genees hulle mekaar.” (p.79)
Ek was aanvanklik effens geïntimideer deur die lywige lys van karakters, maar dit is nogal van hulp om kop te hou met die groot hoeveelheid rolspelers, huidig en uit die voorgeskiedenis. Die dood van haar halfbroer, bring vir Chrisanne, wat navorsing doen oor die grootwithaaie, na hierdie dorp waar sy grootgeword het. Sy dra ’n groot stuk bitterheid in haar hart, en baie vrae waarop sy nie antwoorde het nie. Sy kry voogskap oor haar broer se seuntjie, wat haar lewe ingrypend verander.
Die ander prominente karakter is die sogenaamde Pikkewynkaptein, ’n man wat soos ’n kluisenaar lewe op Atlaseiland. Jy is reg as jy ’n mooi romanse in die vooruitsig stel. Daar is immers ’n bruidsluier betrokke volgens die titel.
Die milieu is pure see: haaiduikhokke, ’n skeepswrak, ’n vuurtoring, ’n moordwalvis, grootwithaaie wat uitwyk wanneer die walvis daar aandoen. Teen hierdie agtergrond spook Chrisanne om haar verlede te verwerk, en Ben het sy eie stryd met oorlewingskuld. Hierdie is dan ook die eerste in ’n splinternuwe reeks deur hierdie gewilde skrywer.
Die boek is in die geestelike fiksie genre, uitgegee deur Luca, druknaam van Lapa uitgewers.
“Elke mens hanteer verlies op sy eie manier, het die sielkundige gesê”. (p.15) Aan die woord is die eerstepersoonverteller, Ellie, wat ’n ontsaglike groot verlies deurgemaak het. Dit was egter net die begin van gebeure wat uiteindelik haar wêreld nog verder sou laat uitmekaar spat.
Ek het Ellie se verhaal uiters emosioneel beleef, hou maar die snesies byderhand. Hoewel die skryfstyl baie gemaklik is, vra die storielyn vir konsentrasie omdat daar teruggegryp word so ver as ses maande gelede. Hierdie wisselwerking in tydgleuwe hanteer die skrywer met gemak, met hoofstukke wat dit as sulks aandui.
Teen hoofstuk 22 maak die interessante titel perfek sin: “Ek is Ellie én Lisa, besluit ek. Blomtuin, rivierbos én kliprantjie, Ek is Elizabeth.” (p.97) Lees gerus self In my ander lewe is ek Ellie, om te verstaan hoe Ellie by hierdie stelling uitkom.
Die storielyn is ryk aan aktuele onderwerpe: groepsdruk, sosiale media se invloed, jong liefde, vriendskap, afwesige ouers (om verskeie redes). Daar is lewensverlies en gevolglike rou met verreikende gevolg, ook verlies van drome en ideale. Die boek is duidelik gemik op die tienermark, maar ek wil my verstout om te sê dat volwassenes ewe lekker daaraan gaan lees, al is dit dan met ’n traan of twee.
Die tydsberekening vir die vrystelling van Die Groot Storieboek Avontuur kon beswaarlik meer perfek wees. Vandag, op Wêreldboekedag, is dit ideaal om te lees oor boeke en ’n biblioteek, wat mos hoeka stalmaats is.
Talia is ’n boekwurm en haar gunsteling plek is die skoolbiblioteek. Dit was nou voordat ’n nuwe bibliotekaresse, juffrou Krummel, aangestel is. Nou is die biblioteek ’n plek van verskrikking. Weg is die vreedsame atmosfeer, boeke word verniel en rakke is nie meer netjies en georden nie.
Hierdie oulike verhaal slaan sommer baie vlieë met een klap. Lesers kom agter presies hoe ’n ideale biblioteek moet funksioneer, maar meer nog, word die verskillende genres wat gewild is by kinders, deur middel van die storie verduidelik. Dink oudioboeke, grafiese romans, fantasie en avontuurverhale.
Daar is natuurlik ook ’n boelie betrokke, maar daar word met simpatie gekyk na die rede vir sy gemene optrede. Outisme, verwagtinge van ouers, selfde-geslag ouers en ander moderne tendense word aangeraak. Selfs die kwessie van disleksie, en die spesiale boeke vir diegene wat sukkel om te lees, kom ter sprake. Die Groot Storieboek Avontuur is ’n voorbeeld van Vriendelike boeke, met onder andere met leesbare lettertipes en spesiale papier.
Die betekenis van nuwe woorde visueel beklemtoon sodat dit lyk soos ’n stukkie papier uit ’n notaboek. Dit maak deel uit van die besondere illustrasies deur Nadia du Plessis. Die slim teks is die werk van skrywer, Kristien Potgieter.
Dit is ook in Engels beskikbaar as The Great Storybook Heist, en is geskik vir leser van 9 jaar en ouer.
