Die 2023 Lapa Jeugromankompetisiewenners se boeke is nou almal op die rakke. Die derde van die naaswenners, almal ewe boeiend, het nou in my hande beland. Annerle Barnard se inskrywing, Sterstof, is gepubliseer onder die titel, Donkerster, en is beslis een wat ek kan aanbeveel. Dit is nou as jy verby die ontstellende eerste hoofstuk kan kom.
Die skrywer deins nie terug van uitdagende onderwerpe nie. Sy hanteer onder andere kwessies soos die jag van geblikte diere, wildstroping en die algemene uitdagings van wildbewaring. Met die insig van iemand wat tieners verstaan, skryf sy oor boeliegedrag, haatpos en die isolering van tieners wat anders is as die gewilde norm. Carli Kirstein is briljant en het ’n passie vir wildbewaring. “Mamma, die enigste kere wat klasmaats my geselskap opsoek, is as hulle my vra om Wiskunde te verduidelik.” (p.31) Haar enigste vriende is haar Duitse, geek-vriendin, Hilda, en Sam, ’n albino. Die marginalisering van mense met albinisme is ’n onderwerp wat nie algemeen in romans voorkom nie en dit raak mens aan die hart. “Eintlik het elke mens ’n storie, en dis wanneer ’n mens iemand se storie hoor, dat jy besef dat jy saggies moet trap.” (p.102)
Benewens die spanning wat sommer gou-gou oploop met stropers wat al hoe nader beweeg aan Wild Cat Sanctuary, waar Carli en haar ouers betrokke is, is daar ook volatiele hartsake betrokke. Carli het byvoorbeeld gedink Wouter is haar sterstof, maar hy blyk toksies te wees. Die student, Werner, loop aanvanklik haar argwaan op die hals, en Stef, die ryk “ouer” man met die Porsche, se optrede hou mens aan die wonder.
Oor die dramatiese afloop van die krisis by Wild Cat Sanctuary gaan ek niks verklap nie. Kry gerus die boek, uitgegee deur Lapa Uitgewers, en beleef dit self.