In Die vyf susters maak speurder Adriaan Kruger sy buiging saam met Alex Muller, ’n skryfnaam van die suksesvolle Eleanor Baker. Ek was nogal gretig om dit te lees en die hoop het glad nie beskaam nie.
Die verhaal open met ’n toneel wat die tafel dek vir ’n moordraaisel wat wil herinner aan Agatha Christie op haar beste. Daar is vyf ongetroude susters wat ’n afgesonderde lewe lei in ’n verwaarloosde huis, maar nou is die oudste van hulle “soos ’n lappop, slordig en minagtend op die vloer neergegooi” (p. 5) Rosa, die dominerende leier van die susters, het beswyk aan ’n skietwond aan die kop. Drie van die susters is oënskynlik in skok, die jongste een baie kalm.
Die ondersoek van die saak laat vir Adriaan Kruger sy loopbaankeuse betwyfel. Hy word geskets as ’n ordentlike man wat reken dat hy dalk objektiwiteit kortkom, maar tog skerper kyk as wat die susters sou vermoed. Dit word duidelik dat elkeen van die susters verdagtes kan wees, want Rosa was geensins geliefd by haar sibbe nie. Dan is daar nog verdere randkarakters wat eweneens motiewe kan hê om haar van kant te maak.
Hierdie is die eerste van vyf speurverhale wat tussen 1998 en 2003 verskyn het uit die pen van Eleanor Baker as Alex Muller. Die heruitgawe wat sopas uitgegee is deur Human & Rousseau, spog met ’n splinternuwe baadjie wat die aandag vestig op die belangrike element, naamlik die vuurwapen wat aan die speurder ’n interessante uitdaging gestel het.
Human & Rousseau is ’n druknaam van NB Uitgewers.