Ek is nie seker of dit ’n simptoom is van naderende ouderdom nie, maar deesdae is ek toenemend opgewonde as ek ’n nuwe boek oopslaan en ’n lekker groterige lettertipe vind. Presies só was dit met Waar die doringbome sing, die nuwe roman uit die pen van Elize Parker. Hierdie derde aflewering van die Laeveld-trilogie het inderdaad sonder moeite en lekker vloeiend gelees.
Aan elkeen van die Van der Walt-niggies word daar ’n deel van die boek gewy en die fokus is op heelword en afsluiting, of “Heenkome” soos dit baie gepas genoem word aan die begin van elke deel. Uiteraard staan die dele nie apart nie, want die stories van Lenore, Bella en Tarien kan nie van mekaar losgemaak word nie. Baie van die stryd vloei oor vanuit die vorige twee boeke, maar dit word heel bevredigend aangespreek en uitgesorteer.
Soos die voorblad verklap, is Kili, die nuwe olifantbul, ’n belangrike rolspeler by Lenore op Bateleur. So ook Joss, deur wie se bemiddeling, die olifant geskenk word. Bella en Johnny loop ’n uitdagende pad, en dan is daar ook Tarien en Alan se storie wat pragtig ontplooi midde ’n klomp spanning.
Ek sal aanbeveel dat Stil vloei die Komati, Wanneer skaduwees kantel en Waar die doringbome sing, in volgorde gelees word en sommer direk na mekaar, as dit moontlik is. Dit sal beslis sorg vir ’n goeie greep op die wye gebeure en groot klomp karakters wat ter sprake is.
Die boeke is uitgegee deur LUCA, die geestelike druknaam van Lapa Uitgewers.