As die pragtige voorblad van Susan Coetzer se nuwe roman, Haas en Harriët, by jou ’n verwagting geskep het van ’n sagte seepbel-leeservaring, gaan jy beslis teleurgesteld wees. Die ma en dogter verhoudings soos oopgeskryf, is kompleks en die storie is deurspek van moeilike onderwerpe wat mens telkens laat sidder. Wanneer Mila en Harriët uiteindelik gedwing word om eerlike nabetragting te hou, erken die bejaarde Harriët: “Ons doen ons bes as ma’s. Maar ons maak foute – almal van ons, Dis by trial en error wat ons leer…” (p.304)
Mila, wat van kleins af die naam van Haas of Hasie dra, is nou ’n suksesvolle sakevrou wat werk aan ’n voorlegging vir ’n PhD. Haar dogter, Tami, is op die outistiese spektrum. Voeg daarby Mila se eksentrieke ma, Harriët, wat in elke mens ’n dier raaksien en diere opstop vir inkomste, een na die ander projek aanpak en gereeld agter mans aan trek met Mila op sleeptou, of in die sorg agtergelaat van mense wat nie haar beste belange beskerm nie.
Die skrywer vertel die verhaal in twee tydsgleuwe, in die 70’s en in 2023. Sy deel die kritiese elemente van die storielyn tydsaam met haar lesers, en ek gaan nie die vele wendings en openbarings hier verklap en die lesers beroof van die voorreg om dit self te beleef nie.
Die aanwending van EAT, oftewel Equine-Assisted Therapy, was vir my baie interessant. Dit is effektief in die storielyn aangewend op ’n stadium waar asemskep midde van ’n plofbare situasie omtrent nodig was.
Die mooi van seepbelle is darem nie vermors nie. Tami beskou dit as die beste verjaarsdaggeskenk: “Seepbelle is die perfekte mengsel van wetenskap en speel.” (p.334) Haas en Harriët gaan nog ’n rukkie by my spook. Lees dit gerus as jy hou van ’n veelvlakkige verhoudingsroman.
Die boek is uitgegee deur Human & Rousseau, ’n druknaam van NB Uitgewers.