Om ’n laaste wens van haar pa te eerbiedig, vertrek Gemma na Marokko, en spesifiek na die roosplaas, Sangrose. Die Marokkaanse landskap daarheen word goed uitgebeeld en verklaar waarom Soet rose, donker geheime, deur Frenette van Wyk uitgegee is as ’n romanse in die Reis sub-genre. Die titel is ook goed gekies, want op die pragtige plaas met duisende roosbome, is daar beslis geheime opgesluit.
Gemma is ’n joernalis met ’n ondersoekende gees. Haar pogings om die geheime te ontbloot, bring haar in uiteindelik in konflik met die eienaar van die plaas, die wewenaar, Julien, terwyl daar vanuit die staanspoor ’n definitiewe aantrekking tussen hulle was.
Die storie herinner my sterk aan Daphne du Maurier se Rebecca, hoewel dit in verskillende tye en plekke afspeel. Dalk is dit die rosetuine, maar veral die antagonis, die hatige Mrs Danvers. In hierdie verhaal is dit Samira wat openlik vyandig is en soos ’n skim verskyn oral waar Gemma beweeg.
Soet rose, donker geheime is ’n publikasie van Lapa Uitgewers onder die Romanza druknaam.