Onpaar oorbelle, ’n bos vuurrooi hare wat soms lyk na Moses se besembos, ’n verskeidenheid brille omdat die oë nie meer mooi kyk nie en jare wat die sewentigmerk lankal oorgesteek het. Dit is dié Sarah wat Kristel Loots aan ons bekend stel. En natuur is daar die pille, “so fênsie, die mediese fonds betaal glad nie daarvoor nie.” (p.274)
Lees jy verby die kenmerkende skerp humor van hierdie skrywer, ontdek jy groot lewenservaring, wysheid, hartseer, vertroebelde verhoudings, onsekerheid oor die ouderdom se uitdagings. Daar is nostalgie: die His Master’s Voice-draadloos, Spiekeries Viviers wat ons onbehoorlik vroeg op ’n Saterdagoggend voor die radio gehad het wanneer die rugbyspanne oorsee speel. Ook onbeantwoorde liefde wat opnuut kom pla wanneer ’n uitnoding na ’n 55jaar reünie Sarah se geordende bestaan kom omkrap.
Wat volg is ’n uiters vermaaklike reis saam met Sarah, haar soeke na ’n plus een, wat uiteindelik uitloop op Sarah plus drie. Siegfried, haar gunstelingkleinseun, is ’n kosbare element van die storie, en ’n paar onverwagte wendings sorg dat die storielyn nie voorspelbaar word nie.
Sarah plus een is uitgegee deur Queillerie, ’n druknaam van NB Uitgewers. Ek kan dit aanbeveel vir ’n lekker vinnige lees, wat jou gaan laat lag en laat nadink.