Ek het verskriklik lekker gelees aan An-Mari do Carmo se nuwe jeugverhaal, Foto’s en fairy lights. Sommer met die eerste oogopslag het die buiteblad met my gepraat. Volpunte daarvoor aan ontwerper, Nadene Kriel en illustreerder, Johann Strauss.
Die holderstebolder, impulsiewe, rooimier van ’n karakter, Elzandri, kruip sommer diep in ’n mens se hart. Sy beskou haarself as ’n mislukking, een wat niks deurvoer nie, te gou moed opgee. Die karakter oortuig een honderd persent, dalk juis vanweë die feit dat die skrywer identifiseer met die stryd en uitdagings wat Elzandri se lewe definieer. Nie alleen wat haar persoonlikheid aanbetref nie, maar ook die gesinsopset met ’n dominerende pa-figuur.
Die uitdagings, polities en andersins, van plaaslewe, die vooropgesette verwagtinge van geslag op geslag op familieplase, tradisies, dinge waaroor die uitgebreide familie saamstem en ook dít waaroor daar nie ooreenstemming is nie – dit word alles keurig aangebied. “Die Kleynhans-gesinne verskil oor baie dinge, en kerk-sake is een van die grotes.” (p.76). Daar is Doppers, happy-clappies, NG en Elzandri se pa wat met elke kerk fout vind.
Hoewel die roman nie as geestelike fiksie bemark is nie, is die hoofkarakter se herontdekking van geestelike waarhede en die Bybel as gesag, ’n belangrike element van die storielyn. Gesinsbande, verdraagsaamheid, selfontdekking en jong liefde maak van hierdie verhaal ’n ryke leeservaring. Ek is nie geneig tot lysies maak van my gunsteling boeke nie, maar as ek moes, sou hierdie verhaal beslis ’n aanspraakmaker wees.
Foto’s en fairy lights is uitgegee deur Human & Rousseau, ’n gewilde druknaam van NB Uitgewers.