Die keiser se duim het my tot lank na middernag besig gehou; trouens, dit het my klaarblyklik ook daarná bloots gery, want my slaaptelling was dalk die laagste ooit! Chris Karsten is sekerlik een van die mees bekroonde en benoemde skrywers in Suid-Afrika, maar hierdie was my Karstens-debuut.
Ek kan met vrymoedigheid sê dat om vir Ella Neser eers hier, in haar tiende verskyning, te ontmoet, nie problematies is nie. Die skrywer was heeltemal in staat om genoeg voorgeskiedenis by die huidige storielyn by te werk, sodat ek haar, en ook haar verhouding met Lou Pepler, na behore kon peil. Ek het ook reeds gou agtergekom dat hierdie skrywer meesterlik omgaan met woorde, soos op p.53, waar hy dié verhouding verwoord: “(hulle) was elkeen in eie hart huiwerig of hulle gereed was om persoonlike vryhede op te offer vir ’n verhouding waarin hy so swaar van tong is met woorde soos liefde en trou.”
Die keiser se duim het mag oor lewe en dood; verwys die gladiatorgevegte van die vroeë Romeine (p.99) Daardie mag lê, in die moderne Boedapest, by die nyweraar, doctor Zoltán Farkas en indirek by sy gesant, die prokureur, Gábor Mészáros. Die milieu verander gereeld tussen Johannesburg, Hongarye en Brugge terwyl dit telkens onderbreek word met historiese notas wat die storielyn inkleur.
Wat het ek reg en verkeerd gedoen met die lees van hierdie roman? Ek het vroeg reeds besluit om nie die Hongaarse name en woorde te probeer verbaliseer nie. Lees dit bloot op sigwaarde, dan vlot dit heel goed. Dit was ’n pluspunt. ’n Fout was om iewers my lees te onderbreek. Gegewe die komplekse aard van die storie, en die groot hoeveelheid karakters betrokke, was dit ’n uitdaging om weer op koers te kom.
Die keiser se duim was waarskynlik effens in die rooi wat betref my toleransie van geweld, maar sonder twyfel is hier ’n fenominale skrywer aan die woord. Een van die boeke waarvan jy die slothoofstukke wéér wil lees om seker te maak dat jy jouself nie vergis het nie.
Die boek is uitgegee deur Human & Rousseau, druknaam van NB Uitgewers, en wyd beskikbaar.