Het jy al ooit ’n boek gelees waar die proloog geskryf is by monde van ’n spierwit hoenderhennetjie? Ek het vir seker nog nooit tevore so iets teëgekom nie, maar sommer vanuit die staanspoor was ek geboei deur onder andere die omgewing wat so raak geskets is, en die gemak waarmee die skrywer omgaan met beskrywings, vergelykings en beeldspraak. En dit sonder om oordrewe of geforseerd oor te kom. “Die wolk is nou ’n veer teen die blou. Kuikensag en skoon.” (p.11)
Ek het vinnig besef dat, hoewel Wilde vere Hendrie Grobbelaar se debuutroman is, sy geen amateur is nie. Sy het haar skrywerstande goed geslyp aan kortverhale (twee bundels gepubliseer) en radiodramas.
Pop is ’n motorwerktuigkundige wat ook ’n kleinhoewe aan die gang probeer hou, terwyl haar man sy aande verwyl deur dobbelskuld op te bou. Haar seun kom terug na ’n gap-jaar in Engeland met ’n swanger vrou, Sue, van Indonesiese afkoms. ’n Paar aardskuddende gebeure later, vertrek Sue en Pop na Bali, Sue om iets agter te kom oor haar herkoms, en Pop om perspektief te kry op haar lewe.
Die intense emosionele ervaringe van die karakters het my letterlik saam met hulle laat huil. “Pop wonder skielik hoekom ’n mens gewig verloor as jou hart breek? Jou maag is mos onskuldig in die hele gedoente?” (p.107) Maar dit was nie bloot uitmergelend nie, daar was skeute humor wat mens laat asem skep. Daar was “skok en wanhoop op sy gesig toe sy vanoggend hier ingestap het” (p.86) en “teenoor haar is Pop s’n (haar selfvertroue) so laag, sy kan ’n kite onder ’n mat vlieg.” (p.63)
Die tema van vere, voëls en die hoenders, word suksesvol deurgevoer tot by die epiloog, wat heel gepas weer behoort aan Maria Magdalena, die hennetjie met die gebreide truitjie.
Wilde vere is uitgegee deur Lapa Uitgewers.