Wanneer ’n storie my dryf om iets na te slaan en só my algemene kennis uit te brei, verdien die boek sommer ’n bonuspunt of twee. Presies so was die geval met Santi Neven se nuwe Romanza, Die kleur van passie. Uitgegee onder die sub-genre: Reis, is dit allermins ’n storielyn wat neig na ’n reisjoernaal. Inteendeel, terwyl die Franse geregte lipsmak lekker beskryf word, en daar so ’n paar verwysings is na besienswaardighede en plekke in Frankryk, neem dit tweede plek in naas die dieper nuanses van die afgesonderde lewe van Cérie Besnier.
’n Gebore Suid-Afrikaner, is sy jare gelede deur haar hardvogtige en ongenaakbare pa verban na haar grootouers in Frankryk. Na hulle dood erf sy die Château de Monet waar sy woon saam met haar vertrouelinge, Mari en Bertrand. Hulle bedryf ’n boerdery en sy vul haar inkomste aan deur van tyd tot tyd om te sien na rykmanskinders terwyl hulle ouers reis of andersins besig is.
Nog ’n Suid-Afrikaner, Warrick Pretorius, kom klop aan vir hulp na ’n motorongeluk, en dit gee aanleiding tot ’n rits gebeure wat onder andere uitloop op liefde, groot konfrontasie en spannende gebeure, met haar rare kondisie, genaamd sinestesie, as die spil waarom die intrige draai. Dit is dan ook die leerkurwe waartoe die boek aanleiding gegee het, want ek kon leer dat sinestesie nie ’n siekte, of erger nog, ’n geestessiekte is nie. Dit toets nie positief vir siektes soos skisofrenie of psigose nie, hoewel dit in verskeie vreemde wyses manifesteer by sinestete.
Die skrywer hou die lesers tot in die finale hoofstuk in spanning, voordat dit afsluit met ’n mooi Franse tradisie of twee. Geluk aan die skrywer vir die wyse wat sy buite die gewone gedelf het na ’n vars situasie waarteen die liefdesverhaal kan afspeel.