Klopdans vir die hart, die nuwe Romanza uit die pen van René van Zyl, kon net so wel in die Inspirasie-subgenre tuis gewees het. Nie alleen is dit ’n bittersoet liefdesverhaal van twee onwaarskynlike pasmaats wat mekaar oor die loop van ’n week leer ken nie. Dit is ook vir Caitlin ’n ondersoekende reis na die Here, ’n proses om lewenslange verwerping en liefdeloosheid te bowe te kom.
Om dit ’n reisverhaal te noem, maak egter ook goeie sin. Caitlin en Aiden word deur die dominerende en hartelose matriarg van die Fitzgeralds, Ierland toe gestuur vir ’n wegbreek vir paartjies. Anders as wat dikwels gebeur wanneer die toneel verskuif na ’n ander land, word die leser hier nie verveel met eindelose skilder van die omgewing nie. Inteendeel, die bekoorlike omgewing word geïnkorporeer in die program van die wegbreekweek. Elke leser kan baie leer oor die huwelik uit die leidrade wat byvoorbeeld verskaf word vir die fietsreis deur die omgewing.
René van Zyl se liefde vir en kennis van Ierland, kastele en katedrale skemer deur in die oortuigende storielyn. So ook spreek die toneel van ’n pa en ’n gestremde seun uit eie ervaring.
As jy hierdie Romanza van Lapa Uitgewers aankoop, hetsy in gedrukte of e-formaat, sal dit geld baie goed gespandeer wees. Ek kan waarborg dat jy nie onaangeraak sal wees nie.