Drie susters, gebore Joubert, bedryf saam ’n maatsoek-agentskap, Belladonna. In hierdie derde Romanza in die reeks, val die soeklig nou op Yana, die tegniese ene, wat vir die webwerf en toep verantwoordelik is. Sy is ook die enigste een wat nog ongetroud is, trouens, sy is geskei en het die vaste voorneme om nóóit weer te trou nie.
’n Produksiemaatskappy betrek Belladonna by die skep van ’n realiteitsprogram en skielik is Yana se geordende wêreld op sy kop gedraai. Die bestuurshoof van Henderson Produksies, Simon Henderson, kom byna as dominerend voor, wat binne die konteks van die verhaal nodig is vir balans, juis omdat Yana so ’n sterk karakter is.
Sterk ja, maar een wat swaar dra aan komplekse as gevolg van haar mislukte huwelik. Haar vooropgesette idees kom telkens in die pad, laat haar verkeerd optree. Haar ma se raad kom goed te pas: “As jy in die moeilikheid is, dink eers goed na oor hoe jy daarúit gaan kom.” (p.88)
Hoe lank is nooit? Yana kom agter dat daar wel ’n einde aan “nooit” is. Dina Botha slaag weereens om ’n heerlike, romantiese verhaal op te diep, uitgegee deur Romanza, druknaam van Lapa Uitgewers.