Dit is vir my bykans onmoontlik om die skryfwerk van Eleanor Baker, onder haar skryfnaam Christine le Roux, in ’n genre-boksie te druk. Hoewel dit wat lengte aanbetref vergelyk met hedendaagse romanses, is die storielyne veel meer kompleks en selfs spannend, met elemente wat grootliks taboe is by die standaard romanse. Held en heldin ontmoet mekaar weliswaar vroeg in die verhaal en die einde is gelukkig, maar daar hou die ooreenkomste grotendeels op.
Die bedrewenheid en veelsydigheid van Eleanor Baker is duidelik as mens in ag neem dat sy in meerdere genres geskryf het, en onder drie skryfname gepubliseer het. Verder ook uit die feit dat haar, kom ons noem dit, korter liefdesromans, reeds in ten minste tien omnibusse saamgevat is, en weereens gepubliseer word as Keur-bundels. Keur 10, wat in November 2024 op die rakke verskyn het, is ’n nuwe uitgawe van drie verhale, Die glasappel, Die blou uur en Die groen maan wat voorheen in Omnibus 6 verskyn het.
In Die glasappel, word Theo Senekal aanvanklik, tot my argwaan, voorgestel as ’n arrogante rokjagter wat sy moses teëkom in die persoon van ’n eksentrieke, lesende karaktertjie, wie se naam hy eers baie later verneem. Die karakterontwikkeling is uitstekend en die dialoog, veral die onverwagte uitlatings en redenasies van die heldin, hou enduit die aandag. Daar is self oomblikke wat ek hardop moes lag, soos vir Theo se vennoot, Kerneels: “Kerneels loop terug na sy kantoor en wonder wie mens bel, ’n sielkundige of ’n psigiater?” (p. 43)
Die karakters in Die blou uur is albei met misdaad gemoeid. Hy verdwyn vir onbepaalde tye, gemoeid met navorsing terwyl sy speurverhale skryf. Is dit wat hulle na mekaar aangetrek het, of is dit iets meer mities? Hy noem haar immers Cassandra en sy verdwyn in sy blou oë. Die spanning en intense hartseer wat die storie oplewer, het my verras en aan die lees gehou.
Johan Norval is die manlike hoofkarakter in Die groen maan. “As hy nie enige meisie se droomheld is nie, is die maan groen.” (p. 349) Emosionele aftakeling, selfdood, droogte, vee wat omkom, is maar ’n paar van die elemente wat lyf gee aan die verhaal, terwyl die oënskynlik geduldige en gebalanseerde Johan, se goeie karaktertrekke tot die uiterste beproef word.
Keur 10 is ’n publikasie van Human & Rousseau, ’n druknaam van NB Uitgewers.