“Soms verwens sy hierdie ding in haar wat moet weet.” (p.326) Hierdie paar woorde sê baie oor ondersoekende misdaadjoernalis, Ami Prinsloo. Sy is onverskrokke, hardkoppig, hou op ’n aweregse manier altyd so na as moontlik aan die waarheid. En sy laat ’n ding nie los nie, nie eers wanneer sy bedreig word of onmin op die hals haal nie.
Wanneer haar goeie vriend, afgetrede polisiegeneraal, Paul de Jager, sterf aan ’n koeëlwond, word Ami belas met sy laaste wens, naamlik om ‘n ou saak weer te besoek, dié van ’n vyftienjarige seun wat in 1998 spoorloos verdwyn het. Paul was drie maal getroud, vandaar drie weduwees wat almal ’n rol speel in die ondersoek waarby Ami al hoe dieper betrokke raak. 
Die interessante storielyn wat vinnig beweeg, het my vasgenael gehou. Ek het ook baie gehou van die manier waarop die skrywer die gebeure in 1998 aangebied het, en wel vanuit die gesigspunt van verskeie rolspelers wat betrokke was. 
Die drie weduwees is die vierde boek in die reeks oor Ami Prinsloo. Dit volg op Minder as niks, Die verkeerde vrou en Al wat tel. Ek het al bes gegee met reekse, kan eenvoudig nie al die vorige detail onthou nie, maar nogtans kon ek hierdie een met gemak lees en waardeer. Wat weereens bewys watter uitmuntende krimiskrywer, Irma Venter is.
Die drie weduwees is uitgegee deur Tafelberg, ‘n druknaam van NB uitgewers, nou onder die vaandel van Jonathan Ball Uitgewers.