Ek moet sommer uit die staanspoor bieg dat ek nie een van die miljoene sosiale media volgelinge was van Ruben Lambrechts en sy diere nie. Trouens, ek het eers van hierdie interessante mens bewus geraak toe ek ‘n bekendstellings e-pos ontvang het van die uitgewers. Intussen het ek wel gaan uitvind waaroor die ophef gaan, en ek was gefassineer deur die visuele rekords van sy besondere liefde vir en verhouding met die talle diere op hulle plaas, Simmenua, in Namibië.
Benewens ses kindervriendelike stories, is die boek, Ruben Namibië en Cindy, propvol feite oor wilde diere, en ook spesifiek oor die diere wat om verskeie redes by hulle op die plaas beland het. Hoewel hulle talle wesies versorg het oor die jare, glo Ruben: “Babadiertjies hoort in die veld. By hulle regte ma’s” (p.71)
Die gesin bestaan uit Ruben en sy tweelingbroer, Tertius, pa Malan en ma Barista, wat deur die diere geag word as die alfa-wyfie, omdat sy die kleintjies versorg. “Mens en dier moet mekaar se verskille waardeer en respekteer. En julle wilde en mak diere ook,” is Barista se sienswyse. (p. 91) En dan is daar natuurlik Cindy, die bobbejaan, wat soos ’n sussie is vir die seuns. Sy het merkwaardige geduld met nuwe aankomelinge, beskermend teenoor die mense en die ander diere.
Ruben Namibië en Cindy is uitgegee deur Tafelberg, ’n druknaam van Jonathan Ball Uitgewers. Dit is ook in Engels beskikbaar. Die skrywer is Pieter van Zyl, die besondere foto’s verskaf deur Ruben Lambrechts, en die skitterende illustrasies is die werk van Clarabelle Joubert. Die eindproduk is kleurvol en gewaarborg om oud en jonk te betower. Of jy, of jou kinders, diereliefhebbers is, of eintlik baie bang is vir diere, soos ekself, dit is ’n boek wat vra om gelees te word.