Hugo Roets is ’n flukse knapie wat sy ma hand gee met die skoonmaak van die hondehokke by haar diereskuiling, Pote Paradys. Hy sorg ook dat die honde kos en water het. Sy grootste begeerte is dat elke hond die perfekte nuwe eienaar moet kry, want “Elke hond verdien ’n vir-altyd-huis.” (p.5)
Die storie van ’n wasige, deursigtige hondjie wat in hok 20 verskyn, sal oud en jonk se harte aanraak. In tipiese Fanie Viljoen styl, spreek dit ook ’n paar relevante kwessies aan soos die gebruik van diere in sirkusse, afknou van diere deur geniepsige kinders, en die massa-teling van honde vir ekonomiese gewin.
Hugo en sy beste maat, Mel, vorm ’n gedugte front teen die partye wat met agendas by die skuiling aanklop, en Frikkadel kry uiteindelik sy gelukkig, vir-altyd-huis.
Die uitsonderlike illustrasies van Johann Strauss komplimenteer die boek perfek. Die gebruik van kleur en afwisselende lettertipes sal verder die leesgenot verhoog.
Frikkadel die Spookhond is uitgegee deur Lapa Uitgewers en is ideaal vir kinders van nege jaar en ouer wat al selfstandig lees. Dit is ook in Engels beskikbaar as Meatball the Ghost Dog.