FREE delivery to all EXCLUSIVE BOOKS stores nationwide. FREE delivery to your door on all orders over R450. Excludes all international deliveries.
Ek is ’n sterk aanhanger van die werk van René van Zyl, maar ek moet bieg dat ek nogal gesukkel het om vat te kry aan Niekie Rabie. “Hoekom laat sy wat Niekie is, haar so maklik deur almal misbruik? Het sy so ’n vreeslike behoefte aan liefde of aandag?” (p.38) Maar toegegee, die minderwaardigheid van die hoofkarakter is juis die spil waar rondom die redelik unieke storielyn draai.
Niekie, wat haarself ag as ’n raaf in die geselskap van arende, leef van kindsbeen af in die skaduwee van haar ekstroverte suster, nou ’n suksesvolle aktrise. Sy laat toe dat sy konstant, as Irene se assistent, op die agtergrond gedwing word. “Sy is regtig gebreek. Tweedehands, verniel en op die ashoop gelos.” (p.73)
Die milieu is interessant: ’n rolprentstel, kompleet met al die binnewerkinge van rolprentvervaardiging. Dit is dan ook die sterk manlike hoofkarakter en akteur, Ruhan, wat die uitdaging aanvaar om Niekie te oorreed om te droom na te jaag en in haarself te begin glo.
Die skrywer navigeer met vaardigheid en gemak die moeilike vaarwater waardeur Niekie worstel. Tot enkele bladsye voor die slot, moet die leser wag vir die bevredigende, gelukkige einde.
Voëls van enerse vere is ’n Romanza uit die stal van Lapa Uitgewers.
The book has a light melancholic storyline with business lessons throughout.
Ek lees van tyd tot tyd ’n boek wat tyd vra om in te sink alvorens ek my gedagtes daarrondom kan neerpen. Volmaan in Baviaanskloof is ’n perfekte voorbeeld daarvan. En selfs na die nabetragting voel ek myself onwaardig om iets by te voeg by die diep reis waarlangs Jeanette Stals my geneem het.
Fransien Theron is ’n jong kunstenaar wat oor die tydperk van ’n paar jaar méér verloor as wat enige mens behoort te dra. Haar baba-seun, haar huwelik, haar vermoë om vreugde te vind in kleure en verf. Soveel so, dat sy haarself afsonder op ’n plaas in die Baviaanskloof, vanwaar sy met volmaan, ’n einde wil maak aan haar troostelose bestaan. En waar sy traumatiese fisiese verlies ly.
Ek was verras met die treffende afwisselende perspektiewe van die luiperdwyfie en die getraumatiseerde vrou. Nog meer wanneer die perspektiewe vermeng, mens en dier, verlede en hede saamvloei. Bladsye 130-135 is ’n gedeelte wat gemerk moet word vir herlees, dit is so treffend geskryf.
Die skrywer maak die natuur en dierelewe ongeforseerd deel van die storielyn. Stap jy saam met Dolf deur die ruigtes (p.178) beleef jy die dassies, die eekhorings, die witkruisarend, ruik jy die luiperd.
Volmaan in Baviaanskloof, wat uitgegee is deur Human & Rousseau, is hoogs aanbeveel en sal op my rak bly om in die toekoms te herlees.
Felicia Snyman-du Toit het al voorheen haar jong lesers op avonture geneem. Die verhaal van Chloe en die dino-baba is nog so ’n verbeeldingsvlug propvol pret, maar ook ’n paar benoude oomblikke. “Sy het nog nooit soveel pret, vrees en verrassings in een dag beleef nie.” (p.70)
Die sentrale gedagte wat die storie wil tuisbring, is een van verantwoordelikheid. Chloe wil graag ’n hamster hê en onderhandel met haar ma om dit te bekom in ruil vir ’n voorneme om voortaan verantwoordelik op te tree. Nodeloos om te sê, het dit totaal misluk. Haar eerste opdrag was om haar tweejarige boetie op te pas. Hy is besonder begaafd en heeltemal versot op dinosourusse.
Die chaos wat volg sal jong beginnerlesers ’n tydjie besig hou, en ’n uitstekende bron van voorlees aan kleiner outjies wees. Lekker byklanke is sommer in die teks opgeneem, soos “Hieja! Hieja! Hieja!” en “Fraaank!” en “Bwaaaaahp!” Die lieflike illustrasies deur Rouxmia Roest laat die karakters lewe kry en verleen kleur aan die fantasie.
Chloe en die dino-baba is uitgegee deur Lapa Uitgewers.
