Ek was verskriklik opgewonde om twee splinternuwe titels in die Soek in die boek-reeks te ontvang. Ek het immers eerstehands ervaar presies hoeveel genot ’n tweejarige geput het uit die vorige twee titels, Wilde diere en Plaasdiere. Dit is baie kosbaar as so ’n klein mensie die boek aan die handige en stewige handvatsel beetkry en kom vra: “lees, ouma.”
Die formaat, afwerking en gehalte is identies aan die vorige titels. Die karton is besonder sterk met ’n glansafwerking wat maklik kan skoonvee sou taai, klein vingertjies dalk betrokke raak. Dit is ’n fees van kleur en fyn detail, sodat die soek van die items op elke bladsy tog ’n bietjie uitdaging inhou en die kinders goed kan besig hou.
Die teks is nommerpas, nie te lank of te gekompliseerd nie, met heerlike rym wat uit die oorspronklike Engels vertaal is deur De Wet Hugo.
In Dinosourusse ontmoet die kinders ’n hele rits van die gediertes uit die oertyd, almal kleurvol uitgebeeld, van slinks, na groot en swaar, en selfs een wat glimlag. Daar kruip weer velerlei weg op die bladsye, onder andere ’n mier, skilpad, palmboom, vulkaan, skoenlappers en besies.
Human & Rousseau, druknaam van NB Uitgewers, verdien weereens ’n pluimpie vir hierdie skitterende boekies vir ons heel klein maats. Dit is ideale kersfeesgeskenke wat beslis langer as net ’n dag of twee sal oorleef.