Voordat ek enige lofrede oor die debuutboek van wynmaker, Philip Jonker, of eerder skrywer, PJO Jonker, gelees het, het die minimalistiese voorblad my aandag getrek. Pure nuuskierigheid het my ’n paar dae gelede genoop om ’n uittreksel op Libby te lees, net om binne die eerste paar bladsye betrokke te raak by die jong Jada. Té jonk, die erfgenaam van die spogplaas, Erfdeel.
Hy het ’n “sinjaal-oomblik” waartydens die koers van sy lewe verander. Hy skroom nie weg van die ellende en uitdagings van die aangrensende krotwoonbuurte nie, gretig om die “sinjaalsleutel” aan te gee, ongeag die ras of status, al dan nie.
Soos ’n modern Hosea, kruis sy pad met dié van ’n prostituut waarvan hy nie die naam ken nie. Hy weet net dat hy haar moet liefhê “totdat sy mooi is.” Hierdie is nie ’n geestelike roman nie, hoewel Jada se bekering en wat hy daarmee maak, ’n prominente rol vervul. Dit is ook veel meer as ’n gewone plaasroman, hoewel die uitdagings van boerdery en veral die sosio-ekonomiese dinamika ’n duidende deel uitmaak van die storielyn.
Jada se naïwiteit en sy impulsiewe optrede het my telkens laat sidder, maar ek wil niks verder van die storielyn verklap nie. Net die skrywer geluk wens met hierdie fenominale stuk skryfwerk.
Die Onsigbare is in Augustus 2024 uitgegee deur Tafelberg, ’n druknaam van NB Uitgewers