Cecilia Nortjé se nuwe Romanza, Maanskyn en brandewyn, voldoen aan al die vereistes vir ’n geslaagde romanse. Die held en heldin ontmoet vroeg in die storie, die vonke spat behoorlik, maar daar is dadelik ’n onderliggende aantrekking wat mettertyd al hoe duideliker manifesteer.
In pas met die moderne romanse is die heldin, Beatrix, of Trix of Bea, afhangende van watter hoed sy dra, ’n sterk vrou wat haar nie laat intimideer deur die eienaar van die buurplaas nie. Ray, wat die Landauer Distilleerders bedryf, is ook ’n goeie voorbeeld van ’n baie aantreklike romantiese held, kompleet met goeie maniere en ’n wens om Trix se plasie te bekom.
Dit is dan juis ook laasgenoemde visie wat die sluwe antagonis gebruik om onmin te bewerk tussen Trix en Ray. Nodeloos om te sê, is die sukses van Skye se plan van korte duur en seëvier die liefde.