As ’n reël sal ek nie sommer twee boeke tegelyk aanpak nie. Dit is juis hierdie beginsel wat ek verontagsaam het toe ek Dina Botha se nuutste Romanza, ’n Skandalige soen, begin lees het. Dit was egter die interessante dinamika tussen Mary, oftewel Prinses Marié Elizabeth van Habsburg, en die aantreklike skeepskaptein, Francis le Cluc, tesame met die puik skryfstyl van Dina Botha, wat my oorgehaal het om vir ’n paar ure die ander boek tersyde te stel. Ek moes eenvoudig uitvind waarheen die betrokke skandalige soen sou lei.
Mary is aan Prins Octavius van die prinsdom van Kyburg as bruid belowe in gevolge ’n ooreenkoms met haar oom en haar ouma. Wanneer sy halfbroer, Francis opdaag om haar na Kyburg te neem, ontvou daar geleidelik skokkende onthullings oor die wreedheid en geaardheid van Octavius. Terselfdertyd groei die aantrekking tussen Mary en Francis.
Sonder om die ontknoping te verklap, kan ek net noem dat ek deels die uitkoms gekry het waarvoor ek gehoop het, maar daar was tog ’n verrassing as bonus.
Ek het respek vir die gemak waarmee die skrywer die leefwyse, gebruike, kleredrag en ander aspekte van die era waarin die verhaal afspeel, weergee. As jy nie ’n oordrewe sin vir een honderd persent detail van die voorgeskiedenis het nie, kan jy Mary se storie onafhanklik lees van die vorige boek in die reeks, ’n Skandalige aanbod. Eerste prys sal egter wees om sommer albei aan te skaf en in volgorde te lees.