Met die pragtige Helene de Kock Inspirasie-omnibus in my hand, het ek vrymoedigheid geneem om by die skrywer aan te klop met ’n paar vrae, wat sy goedgunstiglik beantwoord het.
Ek wou in die eerste plek weet of sy sulke romans wat vir herpublikasie oorweeg word, moet redigeer. Haar antwoord was baie duidelik en goed gemotiveer: sy skaaf nooit aan heruitgawes nie omdat dit goed is dat lesers ’n boek binne sy tydvak lees. “Al beweeg die karakters teen die tydsgees in”, het sy gesê.
Verder wou ek weet of sy, as skrywer, insae het in die keuse van boeke vir ‘n omnibus, waarop sy positief geantwoord het dat sy wel insae het en dit moet goedkeur.
Die produk van hierdie proses is die kombinasie van Kruispad vir Kara, oorspronklik uitgegee in 2018, en Engel op die drumpel, uitgegee in 1999. Daar is nogal heelwat raakpunte tussen hierdie twee romans in die geestelike fiksie genre. Die hoofkarakters in albei is studente aan Tukkies en albei is pratige meisies wat die aandag trek van mansstudente wat sosiale en akademiese aansien geniet. Jannes Conradie en Hein Leroux deel egter ’n swakte: hulle is nie ouens wat erns maak met verhoudings nie.
Liriese taalgebruik en goeie kennis van die Woord asook die gawe om dit toepaslik in die storielyn te verweef, maak van Helene de Kock se boeke iets besonders, sonder om prekerig oor te kom. Haar karakters ly verlies, hulle voer ’n geloofstryd, het baie wroeging, en hulle moet indringend selfondersoek doen alvorens daar uiteindelik oorwinning kom. Vir die romantiese siele is daar ook die belofte van liefde wat oorwin.
Die Inspirasie-omnibus is uitgegee deur Lux Verbi, die geestelike druknaam van Jonathan Ball Uitgewers. Jy sal dit oral in goeie boekwinkels kan opspoor.