Anderkant die water is ’n boek wat jou bombardeer met emosies. Ronel du Plessis, eggenote van die voormalige Springbokrugbyspeler, Jannie du Plessis, skryf met pynlike eerlikheid oor die ramp wat hulle gesin getref het toe hulle jongste spruit in hulle swembad verdrink het.
Sy begin by die begin van haar en Jannie se verhaal, mediese studente, hulle hospitaaljare, hulle verblyf in Frankryk toe Jannie daar gaan speel het vir ’n Franse klub. Terug in Suid-Afrika, die opwinding van ’n huis teen die berg wat met haar siel praat, maar uiteindelik die plek van groot verlies sou word.
Haar sketse en gedigte gee verdere diepte aan haar vertelling. “My kalender het nou nie meer dae, dit bestaan net uit voor en na” (p.197) en “dalk kan U my vaswerk, ek voel te oop en rou, bring die naald en gare, Heer kom tog, maak net gou.” (p.234) Daar was tye wat sy intens met die Here geworstel het, kwaad was, ontnugter en teleurgesteld, maar haar geloof het staande gebly en haar staande gehou.
Ek sal nie so voorbarig wees om te sê dat ek kan verstaan nie. My eie verliese was nog nie so teen die normale verloop van ouderdom nie. Ek het wel as ‘n pad gestap saam met ’n vriendin wat self ’n dogter moes afstaan, gehelp met troosbedieninge, maar selfs dit gee mens net ’n oppervlakkige verstaan van sulke pyn en verplettering. Anderkant die water help wel om so ’n klein bietjie meer begrip te kry.