Die tema van ’n voorgeeverhouding is geensins uniek in romanses nie. Trouens, dit is al male sonder tal met meerdere of mindere mate van sukses ingespan. Heel dikwels gaan dit gepaard met skuldgevoelens en gewetenswroegen, want in wese bly dit tog maar leuens wat opgedis word.
In Onvoorspelbare liefde het ons dus te make met ’n storielyn wat júís baie voorspelbaar moes wees, maar wat ’n aangename verrassing was dit nie. Ek kon nie vinnig genoeg lees om uit te vind hoe Karla, die kreatiewe bakster, en Regardt, die perfeksionis en vlieënier, se dilemma besweer sou word nie. Want soos mens kon verwag, sou hulle verhouding nie bloot platonies kon bly nie.
Die byna terloopse humor, soos tuinkabouters se ogies wat dalk gloei in die nag, en uitlatings soos: “As jy van plan is om weg te hardloop, bel my asseblief net eers sodat ek saam met jou kan hardloop.” (p.91), saam met goeie karakterontwikkeling en skryfstyl, maak van hierdie ’n uiters geslaagde romanse. Die kontras tussen die spontane Karla en die aantreklike vrygesel met ’n reputasie dat sy meisies nie lank hou nie, sorg vir lekker dinamika in die verhaal.
Corné van Rooyen het haarself reeds bewys as suksesvolle skrywer toe sy ’n ATKV Woordveertjie ingepalm het met ’n Ultimatum vir die liefde. Onvoorspelbare liefde is ’n Romanza, uitgegee deur Lapa Uitgewers, in die sub-genre, Modern.