Dit is altyd vir my lekker om ’n nuwe naam raak te lees in die geledere van Romanzaskrywers. Ek is bietjie agter met my leeswerk, maar toe die kans hom voordoen het ek met entoesiasme gelees aan Vlinders en vonke, wat ek vermoed die debuutwerk is van skrywer El Bester.
Die hoofkarakter, Karo, gaan met groot verwagting aan boord van ’n luukse passasierskip vir ’n weeklange vaart tussen Port Elizabeth en Bazaruto. Dit was veronderstel om ’n groep van vier pare te wees, vriende van Karo se geliefde, Kabous. In effek bevind Karo en Adam hulself egter as los lote, terwyl sy vriendin en ook Kabous, afwesig is. Uiteraard skep dit ’n platvorm vir interessante verwikkelinge.
Daar is ’n dus ’n aansienlike klomp randkarakters, wat in-diepte ontwikkeling van die karakters uitdaag. Die leser kry wel ’n goeie lopie saam met Karo, van ’n suksesvolle model wat haar eie belangstellings tersyde stel om by Kabous in te val, tot ’n meer dinamiese persoon in eie reg.
Oulike alliterende titel, wat herinner aan Louise van der Merwe se reeks wat begin het met Kiekies en Koffie, skep ’n duidelike verwagting van romanse. Die boek is uitgegee onder die sub-genre, Reis, deur Romanza, die gewilde druknaam van Lapa Uitgewers.