Ek lees in ’n beknopte skrywersprofiel van skrywer, Salma Swanepoel, dat sy hoop om verhale te skryf wat lesers sal laat ontspan. Dit het sy inderdaad baie goed reggekry met haar nuwe Romanza, Hemel op aarde.
Die milieu is heel oorspronklik, ’n kleinhoewe waarop ’n koshuis vir veertien hoërskoolseuns ingerig is. Celeste aanvaar ’n tydelike pos as kok en kom gewapen met die oortuiging dat kos gesond moet wees, want só het sy geleer by haar ma wat ’n voedselkundige is. Sy loop haar vas teen voorbehoude, veral van die “skoorsoekerige swaerie” wat inmeng met haar kos en selfs met haar verhouding met haar ouers. Tog kom sy spoedig tot ’n besef : “Denial is a river in Egypt, en sy swem in daardie rivier rond asof sy die Olimpiese swemspan wil haal.” (p.107)
Die verhaal ontplooi heerlik, met selfs ’n skeut spanning wanneer ’n kind soek raak. Misverstande sorg vir bietjie humor ook, niks te swaar of stremmend nie. En ten spyte van Arno se gewroeg oor Celeste se ouderdom, laat liefde hom nie voorskryf nie.
Oulike korrelasie tussen die hoofkarakters se name en die naam van die kleinhoewe, Hemel-op-aarde, rond die storielyn mooi af.