Bloedbande is die vierde boek in ’n reeks oor die speurder, Adriaan Kruger. Die skrywer was die baie gewilde Eleanor Baker, en is onder die skuilnaam, Alex Muller, uitgegee. Sedert Human & Rousseau die reeks in splinternuwe baadjies begin uitgee het in 2025 volg ek die wel en weë van Adriaan Kruger, wat in Bloedbande bevorder word na kaptein. Adriaan, sy vrou Karien en haar tweeling sussies, voel al soos ou bekendes wat tuis hoort op my boekrak.
Moorde maak soos voorheen deel uit van die storielyn, maar sonder grieselrige detail. Daar word eerder deeglik aandag gegee aan die unieke persoonlikhede van die rolspelers. Daar is ook genoeg intrige om die leser tot aan die einde aan die wonder te hou. Selfs wanneer daar ’n belangrike deurbraak gemaak word in die ondersoek, kies die skrywer om die leser nog ’n rukkie in die duister te laat. Hierdie reeks is ’n bewys van die veelsydigheid van die skrywer, wat ewe tuis was met ernstige prosa, jeugverhale, liefdesverhale en speurverhale.
Bloedbande het die eerste maal in 2001 verskyn, en hoewel dit kronologies sin maak om in volgorde te lees, kan dit wel individueel sin maak. Die reeks bestaan uit Die vyf susters, Die rooi angelier, Drie misdade in ’n knoop en Bloedbande. Gawe nuus is dat die skrywer ’n vyfde verhaal geskryf het oor Adriaan Kruger. Ek hoop dat Hotel Bergsig ook ’n heruitgawe gaan sien in die nabye toekoms.
Human & Rousseau is ’n druknaam van Jonathan Ball uitgewers.