Dit was met ’n tikkie nostalgie wat ek Zuleka Smit se nuwe kinderboek, Lea gaan skool toe, gelees het. Watter mamma onthou nie daardie maagpyn wat saamloop met onsekerheid of vrees nie? Ouers het ’n boek soos hierdie nodig om hulle te herinner hoe werklik die gevoel van verwerping, van nie inpas nie, geen vriende nie, nuwe skool en derglike situasies vir ’n kind kan wees.
Die mamma in ons verhaal volg die goeie weg, naamlik om vir Lea te herinner dat Jesus lief is vir haar en dat sy vir Hom kosbaar is. Die waarde van vriendskap is ook ’n belangrike tema wat aandag kry.
Soos met die Ben-boeke, is ek verstom oor die illustrasies, of eerder, kunswerke, van Johann Strauss. Inhoudelik, en esteties, is dit ’n pragboek. Dit is uitgegee deur Luca, die geestelike druknaam van Lapa Uitgewers. Dit is ‘n ideale kersgeskenk vir beginnerlesers, of om voor te lees vir outjies van ongeveer ses jaar en ouer.