Daar is ’n hele rits baie geldige redes waarom ek gesukkel het om my tande te kry in Jo & Sue, en daarna aanvanklik gespook het om ’n duik te begin maak in 635 bladsye. Chanette Paul se vermoë boeiend te skryf is allermins een van daardie redes. Dink eerder: fisio-assistent speel, voltydse versorger, onderbreekte slaap, en algemene onvermoë om te konsentreer. Die Calitz-slette met hulle kru taalgebruik was ook nie ’n goeie aanmoediging nie onder sulke omstandighede nie.
Enkele dae gelede was daar egter ’n deurbraak en daarná was daar nie keer aan nie. Vier uiteenlopende vroue, twee met losse sedes, ’n matriarg wat die spulletjie aanmekaar moet hou, die jongste so lelieblank (letterlik) dat sy ten prooi val van ’n gevaarlike sekte. Dan is daar die manne wat elkeen op sy beurt ’n belangrike rol te spele het in die storielyn.
Casper Calitz, die familiehoof, is vir jare vervreemd van sy nasate, maar laat sy boedel na aan die vier vroue. Dit klink op die oog af na uitkoms vir Jo, wat in groot finansiële verknorsing is, en vir Nan, wat gevra is om voortydig met pensioen te gaan. Totdat hulle Maanschijnbaai toe gaan en die erfposie gade slaan. “’n Kasarm. Uitgestrek. Grotesk. Verwaarloos. En verskriklik turkoois. Dis nou behalwe vir die pers en pienk en lemmetjiegroen deure en vensterrame.” (p.51)
Voeg daarby ’n pienk Cadillac, Hiërofant, Casper se winkel wat kristalle verkoop, ’n uitgebreide boekery en ’n drie-jaar klousule in die testament, en die intrige is groot. Selfs die eksentrieke Gaudi-boustyl word bygesleep om nog verdere kleur te gee. Daar is soveel elemente aan die verhaal, onder andere liefde, erfskandes, bedrog, geweld, en godsdienstige verleiding,
Die Maanschijnbaai-tweeluik is vyftien jaar gelede geskryf en nou hersien. Die nuwe buiteblaaie is besonder treffend en ’n waardevolle toevoeging tot my groeiende versameling van Chanette Paul se boeke.