Ek moet bieg dat ek om verskeie redes aandagafleibaar was toe ek aanvanklik Die dood van Rachel April begin lees het. Gevolglik het ek vasgehaak nadat ek slegs etlike hoofstukke gevorder het. Soveel so, dat toe die hindernisse besweer is, ek desnoods baie bladsye moes herlees. Sederdien, en tot laasnag toe die finale hoofstukke my slaap gesteel het, het ek verbasend vinnig gevorder deur die boeiende intrige wat redelik stadig afgeskop het, maar algaande momentum opgebou het.
Die titel van Lesea du Plessis se tesis vir haar meestersgraad in Politieke Studies, (p.25) weerspieël baie van die kwessies wat haar lewe dikteer. Haar soeke na behoort, na identiteit, na minder wroeg oor ras. Sy was tewens beskuldig: “Jy’s dalk bruin, liefie, maar jy’s nie kallit nie. Jy’s ’n insider wat dink jy’s ’n outsider, Lesea.” (p.19) Dit was medestudent, Rachel April, wat hierdie stelling gemaak het, en nou spoorloos verdwyn het.
Rachel was nie ’n boesemvriendin nie, dit was eerder Lesea se belofte aan Rachel se dogtertjie wat haar genoop het om leidrade op te volg wat lig kon werp op die verdwyning en moord van Rachel. Haar optrede stel haarself, en ook haar stiefbroer, Louwtjie, in lewensgevaar. Tog verhoed dit haar nie om deur te druk nie.
Die storielyn, in lieflike, byna poëtiese taal, is ’n suksesvolle samevoeging van geskiedenis en fiksie. Die proloog, destyds in die herfs, vind uiteindelik afsluiting in dieselfde Vrystaatse grasveld, maar nou in die somer, die gevare verby en die raaisels opgelos. Maar nie sonder baie lewensverlies nie.
Die dood van Rachel April, is die tweede roman uit die pen van P.P. Fourie, nadat hy sy debuut gemaak het met ’n Hart so groot soos ’n vuis, en dit opgevolg het met Ons skulde. Die uitgewer is Queillerie, ’n druknaam van NB Uitgewers.