Mens lees male sonder tal dat lesers ’n boek nie kan neersit nie. Ongelukkig kan ek nie sê dat dit vir my die geval was met Mei en alles daarna nie. Oor die redes waarom ek onbehoorlik lank besig was met die boek, kan ek uitbrei en bespiegel, maar ek sal volstaan deur te sê dat die fout geensins aan die deur van skrywer, Zelda Bezuidenhout, of die storie, gelê kan word nie.
Dat hierdie storie my genoeg rede gegee het tot nabetragting, getuig die baie oranje papiertjies wat treffende frases merk. Dit is nie buitengewoon dat Zelda Bezuidenhout skryf op ’n manier wat jou diep raak nie. In hierdie geval laat dit jou saam met die karakters terugloop na die sewentigs en dit herinner jou aan dinge wat ook in jóú verwysingsraamwerk was toe jy die ouderdom was van die jong Juna.
Na ’n egskeiding wat sy “beskaafd” noem, gaan vestig Juna haar op Erikspos en loop haar kleintydmaatjie raak. Dit gee aanleiding tot ’n delf in die verlede, na haar ma wat ander was, na dinge wat sy geglo het en nou blyk nie heeltemal waar blyk te wees nie. Dit bring haar ook by ’n nugtere kyk na haarself: “Dat sy anders is, met bioritmes wat nie met die res van die wêreld of seisoene sinchroniseer nie. Niks interessants gebeur ooit ná Meimaand met haar nie.” (p.190)
Ouers se invloed op kinders word vanuit verskillende hoeke aangespreek. Ek gaan nie die boek vir ander bederf deur detail neer te pen nie, maar daar het destyds dramatiese dinge gebeur wat nou oopgebreek word. Ook in die teenwoordige tydsgleuf is drama nie uitgesluit nie, en word die karakters gekonfronteer met ernstige toestande soos Parkinsons en demensie wat slagoffers laat “verdwyn”. Juna moet, buiten haar soeke na antwoorde oor die verlede, ook in die hede uitvind wie sy is sonder haar man, sodat sy nie ook verdwyn nie. (p.135)
Mei en alles daarna is nie ’n boek om ligtelik af te jaag nie. Gun jouself die luukse van in diepe lees en die lieflike taal en fyn humor te waardeer. Dit word uitgegee deur Queillerie, ‘n druknaam van Jonathan Ball Uitgewers.