Op die oomblik het ek nie genoeg tyd of breinspasie om gewigtige prosawerke aan te pak nie. Ligter leesstof neem ’n groot deel van my leestyd op. Selfs by spanningsverhale verkies ek ’n goeie knussie. Maar toe vertrou Jonathan Ball Uitgewers my met Vreemde Vos, deur Carel van Rooyen, en boul my uit.
Geskryf vanuit die gesigspunt van ’n dertienjarige seun, is dit allermins kinderagtig. Die skrywer het ’n oortuigende stem gegee aan Tim. Hy praat en redeneer soos ’n kind, geteister deur trauma en verliese, maar nie soos ’n volwassene wat probeer weergee wat ’n kind beleef nie. Vir hierdie doel is die eerstepersoonverteller natuurlik uiters geskik.
Die storielyn is hartroerend en onthutsend, maar fyn humor verlig die somberheid van die verlies wat Tim op fisiese en emosionele vlak beleef. “Ma sê dis nie reg dat ’n hond heeldag alleen by die huis sit terwyl hulle by die werk en ek by die skool is nie. Uit die goedheid van my hart het ek aangebied om op te hou skoolgaan, maar dit het nie gewerk nie.” (p.39)
Interessant dat ’n vos telkens opduik in verhale wat onuitwisbare indruk maak, soos Die klein prinsie, waarna inderdaad in hierdie boek verwys word. Ook in Charlie Mackesy se pragtige tweeluik oor ’n seun en sy reis saam met ’n mol, ’n vos en ’n perd. In Vreemde vos word dit aan die leser oorgelaat om te besluit oor die realiteit van die vos wat telkens aan Tim verskyn, maar wat hy nie op beeld kan vasvat nie.
Ek voel dat ek vir Johannes Deetlefs moet geluk wens met die treffende omslagontwerp. Hoe verder ek gelees het, hoe meer het ek besef dat dit die essensie van die storielyn volmaak uitbeeld.
Vreemde vos is ’n publikasie van Human & Rousseau, ’n druknaam van Jonathan Ball Uitgewers.