Ek kan nie ’n boek summier toemaak nadat die slotsin geskryf is nie. Ek lees álles, tot by die outeursnotas en die bronnelys (gewoonlik gooi ek darem net vlugtig ’n oog oor die bonne!). Chanette Paul maak in die nota oor Maanschijnbaai 2, die verdere verhaal van Nan en Jeannie, die stelling: “Lesers moet my asseblief vergewe dat my verbeelding altyd die oorhand oor die werklikheid kry en verdigsel voorkeur bo feite.” (p.635) Ek wil daarby aanhaak en bieg dat ’n uitstekende verhoudingsroman soos hierdie tydelik die oorhand gekry het oor my traagheid om te lees oor reïnkarnasie en die esoteriese. Die klomp Calitzse het my tyd en aandag totaal gekaap.
Die skrywer wy die laaste bladsye aan ’n verduideliking oor hoe die Maanschijnbaai-tweeluik ontstaan het. Sy beweer dat die Calitze haar “onkant” betrap het. Sy wou ’n romanse skryf maar uiteindelik was die karakters so kompleks dat dit op twee dik boeke en ’n intense familiedrama uitgeloop het.
Van die onderskeie karakters raak diep waarhede kwyt wat die moeite werd is om te onderstreep en te onthou, soos Zach wat dit gehad het oor die risiko om iemand op ’n pedestal te plaas omdat jy daardeur die persoon ’n onreg aandoen. (p.539) En Nan, wat die hele klomp Calitze moes grootkry, se wyse raad: “Met eerlikheid, Jeannie, kom ’n mens baie verder as met opoffering. Met eerlikheid gee jy almal ’n regverdige kans. Opoffering beteken bloot jy doen iets teen jou sin omdat jy glo dit sal ander baat.” (p.613)
Maak seker dat jy genoeg tyd op hande het, dan lees jy hierdie tweeluik in volgorde, Jo & Sue, gevolg deur Nan & Jeannie. Dit is hersien en met splinternuwe, pragtige baadjies uitgegee deur Lapa Uitgewers.