Wat begin as ’n oënskynlike eenvoudige, maar baie venynige geval van afpersing, met drie matriekleerders van Hoërskool Goudfontein as teikens, kring blitsvinnig uit. Soos dit gaan op klein dorpies, is niks ook in elk geval ’n geheim nie. Namate meer en meer mense betrek word in hierdie web van leuens en intimidering, raak die spanning snaarstyf. Marion Erskine het geslaag om ’n whodunit van formaat te skep, sonder twyfel.
Web van leuens is geskryf vir jong volwassenes, maar ek en baie van my boekevriende sal getuig dat die leesbaarheid daarvan nie beperk is tot daardie segment van die lesersmark nie. Ek het opnuut onder die besef gekom van presies hoé blootgestel jong mense is in die moderne era waar sosiale media die septer swaai. “Catfishing”, aanlyn afsprake en “ghosting” is aan die orde van die dag, en die vernuf van bedrieërs ken geen einde nie. Hierdie elemente is met sukses in die storielyn ingewerk, tesame met ander uitdagings soos gebroke huwelike, drankmisbruik, saamgestelde gesinne, dobbelverslawing, groepsdruk, stereotipering – die lys is te lank om alles te noem.
Die skryftaal, asook die uitleg, is nommerpas vir tieners en jong volwassenes. Ek wil egter sommer ouers lesers ook aanraai om dit te lees, sodat ’n paar oogklappe, met betrekking tot die leefwêreld van moderne jongmense, afgeruk kan word. Daar is ook ’n goeie skeut opvoeding vir elkeen om te verhoed dat daar in slaggate getrap word.
Web van leuens is ’n publikasie van Human & Rousseau, die gewilde druknaam van NB Uitgewers.