Na die sukses van sy debuutroman, Geheime op Philadephia, spog bekende radio- en televisiepersoonlikheid, Riaan Grobler, met ’n splinternuwe roman, Hospitaal Weltevreden. Hierdie roman staan wydsbeen oor meerdere genres.
Eerstens is daar geestelike fiksie, en word die kwessie van geloof en die dood onder die soeklig geplaas. ’n Onkoloog se kliniese en streng wetenskaplike benadering word in kontras gebring met die sterk geloof en berusting van ’n kankerlyer wat nie skroom om te getuig teenoor almal waarmee sy in aanraking kom nie.
Verder pas die handskoen van verhoudingsroman ewe goed, met sterk elemente van verbale en fisiese geweld binne ’n huwelik wat op egskeiding uitgeloop het. Geestesversteurings, soos dissosiatiewe persoonlikheidsteuring en ’n gevaarlike psigopaat, gee aanleiding tot die spanningsaspekte van die storielyn. As jy ’n sagte mediese storie verwag het, gaan aanrandings, ontvoering en moord jou onkant betrap.
’n Ander sensitiewe saak is die agtergrond van die hoofkarakter, Anna-Mart. “Ek het maar net weer besef mens sal nooit regtig Danville kan afskud nie, al probeer jy hoe.” (p.173) Terwyl sy en Jacques uitgestyg het bo hulle omstandighede, is ander, soos haar broers, slagoffers daarvan en van hulle eie verkeerde keuses.
Dan kan ek nie nalaat om te noem dat hierdie roman ook ’n liefdesverhaal is nie. Die twee vroulike hoofkarakters, wat om die beurt aan die woord is, se stories sluit aantreklike helde in. As jy dus soek na ’n storie wat maklik lees, in doodgewone spreektaal, en in enige van hierdie genres belangstel, kan jy gerus hier publikasie van Luca oorweeg. Luca is die geestelike druknaam van Lapa Uitgewers.