Ek was totaal betower deur Spienekelientjies, die splinternuwe bundel saamgestel deur Antjie Krog. Om dit te beskryf as “Taalmusiek vir kleintjies” is heeltemal in die kol, want lees jy die versameling van gedigte en prettige rympies, is die ritme opgesluit in die rymende teks werklik opvallend. Die voorwoord bevat belangrike inligting oor die voordele wat kinderryme inhou, soveel as sewe punte wat ek nou nie alles hier gaan herhaal nie.
Gebruik jy die QR-kode, aangebring in die boek, om te luister na die skitterende voorlesings deur Antjie Krog, gaan jy nog méér gefassineer word. Bang word vir Antjie Somers, of vir Die wilde wolman jammer kry as hy uitrafel.
Die keuse van gedigte en rympies is interessant. Daar is vertaalde werke, ou gunstelinge waarvan jy skielik die woorde onthou of wat getoonset is, alles netjies gegroepeer in vyf afdelings, naamlik Trippe trappe trone, S staan vir superslim, Spienekelientjies, Ons eie en Help my!
My kleinkinders is ongelukkig ver maar hierdie bundel gaan ek nie onder my oë laat uitgaan nie. Dit gaan veilig gebêre word vir tye wat ons saam kan lees en rym en geniet. Daar is drie illustreerders, naamlik Roelien Immelman, Willem Samuel en Diek Grobler wie se werk die teks lieflik komplimenteer.
Ek het ’n e-boek ook onder oë gehad, maar dit was veral die gedrukte weergawe, uitgegee deur Lapa Uitgewers, waarvan ek die meeste gehou het.